Beide vlugopnemers van Yeti-vliegtuig gevind

Soek- en reddingswerkers het albei vlug-opnemers gevind van ‘n passasiersvliegtuig wat in Nepal neergestort het. Die vliegtuig van die Yeti-lugdiens was van die hoofstad, Kathmandu na die toeriste-bestemming Pokhara onderweg met 72 mense aan boord. Altesaam 68 liggame is sover gevind. Die soektog na die vier mense wat nog vermis word, word bemoeilik deur bewolkte weer en swak sigbaarheid. Die slagoffers sluit 57 burgers van Nepal, sowel as burgers van Indië, Rusland, Suid-Korea, Argentinië, Ierland, Australië en Frankryk in. Bykans 350 mense is sedert 2000 in vliegtuig- of helikopter-ongelukke in Nepal dood. Sondag se vliegtuigongeluk is egter die dodelikste in 30 jaar.