Beesbemarking daal met meer as 12%

Die Namibiese Vleisraad sê die bemarking van bees het in die derde kwartaal met 12,39 persent gedaal met net minder as 171 000 diere wat tot dusver vanjaar bemark is. Volgens die Vleisraad was 59 persent op die hoef uitgevoer terwyl 26 persent opgeneem is deur uitvoer-abattoirs. B en C-klas abattoirs het 15 persent van die diere verwerk. Meeste van die uitvoere op die hoef is na Suid-Afrika terwyl net minder as 2,5 persent na Angola uitgevoer is. Die bedryf vertoon effe beter met 2,3 persent meer diere wat in die derde kwartaal bemark is vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar. Uitvoer-abattoirs het ook net meer as 19 000 diere in die kwartaal geslag teenoor net meer as 9 000 in dieselfde tydperk verlede jaar.