Bedrogspul by Vatikaan, 10 aangekla

Tien mense, waarvan een ‘n kardinaal in die Vatikaan word krimineel aangekla vir geldwassery, diefstal, bedrog en meer. Volgens berigte het aanklaers in die Vatikaan se ondersoek getoon dat verskeie hooggeplaaste rolspelers betrokke was by ‘n bedrieglike eiendomsbelegging van 413 miljoen Amerikaanse dollar. Die klagtes sluit skokkende bewysstukke in, insluitend dat ‘n sogenaamde intelligensie-agent, wat ‘n losprys moes betaal vir ‘n non wat ontvoer is, dit nooit gedoen het nie en eerder Louis Vuitton en Prada goedere gekoop het. Kenners meen die bedrogspul was alleenlik moontlik omdat die Vatikaan se finansies sonder enige werklike oorsig of beheer bestuur word. Kardinaal Angelo Becciu is die vermeende meesterbrein agter die bedrogspul. Hy was verlede jaar tweede in beheer onder Pous Fransiskus maar is deur die pous afgedank.