Bank Whk doen aansoek vir summiere vonnis teen Amushelelo

Die saak waar Bank Windhoek die omstrede Michael Amushelelo, wat ook van geldwassery en bedrog aangekla word, dagvaar vir die terugbesorging van ‘n Mercedes AMG, kom vandag vlugtig voor regter Boas Usiku voor. Die partye het reeds dokumente ingedien waar die bank sy eis aangepas het en aangedui het dat hy aansoek sal doen vir ‘n summiere vonnis. Die bank sê hy soek die voertuig, wat deur owerhede gekonfiskeer is onder die georganiseerde misdaad wetgewing, sowel as die oorblywende 220 000 Namibiese dollar wat Amushelelo nog op die voertuig skuld. Dit wil volgens die stukke voorkom dat Amushelelo die aansoek vir ‘n summiere vonnis sal teenstaan en dus sal die partye die regter vra om die saak tot 27 Julie uit te stel sodat die nodige dokumente ingedien kan word. Amushelelo en sy sakevennoot Gregory Cloete moet in hul strafregtelike saak aansoek doen om regshulp omdat hulle fondse op is. Dit is nie bekend of dit ook die geval in die saak sal wees nie.