Baba verloor arm na brandwonde in hospitaal, ma dagvaar

Die Namibiese gesondheidsministerie is weer hof toe gesleep oor nalatigheid in die sorg van ‘n pasgebore baba. In die saak word 9 miljoen Namibiese dollar in skadevergoeding geëis. Dit is die soveelste saak wat die ministerie in die land se hoërhof moet verdedig. In die geval sê Maria Gowases, sy het op 16 Junie 2020 geboorte geskenk aan ‘n premature baba in die Katutura-hospitaal. Sy sê haar baba, Grace, is oorgeplaas na die neo-natale sorgeenheid in Sentraal-hospitaal. Op 19 Junie, drie dae na sy gebore is het sy brandwonde op haar arm opgedoen. Die besering het septies geraak en die baba se arm is uiteindelik geamputeer. Volgens Gowases se eis, het kookwater die brandwond veroorsaak. In haar eis maak sy melding van verskeie element wat skok en trauma insluit, maar vra 5 miljoen dollar as gevolg van baba Grace se permanente gestremdheid. Die saak, wat verdedig word, kom vanmiddag voor regter Esi Schimming-Chase. Daar word verwag dat dit vir bemiddeling gestuur word.