Tshwane begin paaie opknap

Die stad Tshwane het amtelik afgeskop met sy sy pad-rehabilitasieprogram. Die program het ‘n begrotingstoekenning van 36 miljoen Namibiese dollar ontvang en sal aandag gee aan die vernuwing van paaie in die omgewing om te verseker dit voldoen aan aanvaarbare standaarde. Die stad se woordvoerder, Sipho Stuurman, sê die program is belangrik aangesien hulle poog om die vervalle padinfrastruktuur wat nie deur vorige administrasies in stand gehou is nie, te vernuwe.


Natis-kantore werk met beperkte personeel

Weens die hoë aantal positiewe Covid-19-gevalle, het die Namibiese Paaie-owerheid aangekondig dat al sy Natis-kantore landswyd en die permittekantoor in Windhoek tot einde Junie met beperkte personeel sal werk. Slegs ‘n beperkte aantal mense sal in betaalsale toegelaat word. Die bestuurder van korporatiewe kommunikasie, Hileni Fillemon, het aan Kosmos 94.1 Nuus verduidelik.

Fillemon het ook kliënte versoek om nie net vir algemene navrae na Natis-kantore te gaan nie. Sy het kliënte versoek om van hul inbelsentrum en Facebook-blad gebruik te maak vir verdere inligting.


Afrika-Ontwikkelingsbankgroep stel nuwe visepresident aan

Beth Dunford is aangestel as visepresident van die Afrika-Ontwikkelings-bankgroep. Sy bring volgens berigte omvattende ervaring met haar saam danksy haar vorige rol as assistent van die administrateur van die Amerikaanse Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling se Buro vir Veerkragtigheid en Voedselsekerheid. Dunford sê sy is passievol oor die bank se ontwikkelings-agenda. Die groep beskryf haar as ‘n strategiese, doeltreffende leier met diep kennis en ‘n indrukwekkende rekord. Haar aanstelling word op 1 Julie van krag. 


Geingob: Bemark Afrika as toerisme- en sakebestemming

Namibiese President Hage Geingob het vandag tydens die amptelike opening van die Afrika streekstoerisme-konferensie van die Verenigde Nasies se Wêreldtoerisme-organisasie in Windhoek gesê Afrika as handelsmerk moet gesamentlik en verenig as toerisme- en sakebestemming bemark word. Geingob het ook gesê om toerisme-herstel te verseker, moet reisbeperkings gelig word, maar dit vereis globale samewerking en oplossings. 


Meer en meer Angolese immigrante stroom Omusati binne

Die situasie met die Angolese immigrante in die Omusati-streek word daagliks erger. Dit word veroorsaak deur die toename in getalle verlede week van immigrante vanaf Angola wat die noordelike grens van Namibië instroom weens droogte in hul land. Die goewerneur van Omusati-streek, Erginus Endjala, het gesê die situasie is nie gunstig nie. Hy het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê dat die streek op die oomblik afhanklik is van barmhartige Samaritane.


SA onderwysers wag vir Johnson & Johnson-inentings

Suid Afrika se tweede grootste onderwysers-unie, Naptosa sê hy is versigtig optimisties oor die nuus dat 300 000 dosisse Johnson en Johnson Covid-19-entstof die week in die land versprei sal word om onderwysers mee in te ent. Die besending entstowwe het vanoggend in die land aangekom en behoort teen Vrydag in die verskeie provinsies afgelewer te word.


Medelye stroom in vir Mburumba Kerina

Boodskappe van medelye stroom in ná die afsterwe van die Namibiese held, Mburumba Kerina. Namibiese President Hage Geingob het sy innige simpatie met die familie van Kerina in ‘n verklaring van die Namibiese Presidensie uitgespreek. Die 91-jarige Kerina het Namibië sy naam gegee en was ‘n stigter van Swapo, Nudo en ander partye, sowel as regeringstrukture wat die parlement insluit. Die Namibiese eerste minister, Saara Kuugongelwa-Amadhila, het ook haar herinneringe aan Kerina met Kosmos 94.1 Nuus gedeel.


Vermeende dieselstelers in Durbanse hof

In die buurland sou twee verdagtes vandag in die landdroshof in Durban verskyn nadat hulle in hegtenis geneem is, omdat hulle blykbaar diesel gesteel het. Die inhegtenisnemings het plaasgevind nadat polisiebeamptes tydens patrollie ‘n voertuig in Bayhead opgemerk het wat teen ‘n hoë snelheid langs die spoorlyn jaag. Die provinsiale polisiewoordvoerder, Nqobile Gwala, sê die polisie het herhaal dat wetteloosheid in die provinsie bekamp moet word.