Aspirante opperhoof Riruako gedagvaar vir uitstaande huur

Die aspirante Ovaherero opperhoof en bekende politieke ontleder, dr. Hoze Riruako word saam met sy vrou Belinda vir net minder as 93 000 Namibiese dollar in uitstaande huurgeld gedagvaar. Die aansoeker, Ute Mette, sê in haar stukke aan regter Collins Parker dat sy ‘n eiendom in Pionierspark, Uitbreiding 1 aan die paartjie verhuur het. ‘n Huurooreenkoms is blykbaar op 21 Augustus 2014 onderteken met die Rirurako’s wat in September daardie jaar ingetrek het. Alles het goed verloop tot Desember 2019 toe huurbetalings gestaak het. Die twee het eers in Augustus 2021 uitgetrek en Mette eis 92 785 dollar in onbetaalde huur. ‘n Aansoek vir ‘s summiere vonnis is ook neergelê maar dit is teruggetrek. Riruako het aanduiding gegee dat hy die saak sal verdedig maar, het nog nie stukke ingedien nie. Die saak is in die hof vanoggend vir ‘n statusverhoor.