Archie woed voort teen likwidateur-aanstellings

Die saak waar Archie Graham saam met 58 ander aansoekers die Hoërhof vir ‘n bevel vra om die Meester van die Hoërhof te verbied om Alwyn van Straten en William Schickerling as voorlopige likwidateurs of trustees aan te stel by enige van die aansoekers wat gelys is, is weer voor regter Thomas Masuku vandag. Die saak word deur Bank Windhoek teengestaan. Die aansoekers in die saak sluit talle CC maatskappye en verskeie trusts in. In sy stukke voor die hof sê Graham dat Van Straten hom by een krediteur, Bank Windhoek skaar en hy voer aan dat die twee konfidensiële inligting gedeel het. Hy sê aan die hof dat Van Straten nie onafhanklik is nie en maak verwysing na ‘n konflik van belange. Graham het hoofargumente ingedien en meen dat die kern van die saak by die aanstelling van likwidateurs deur die meester is omdat die aanstellings tot nadeel van partye kan wees.