ANC betaal die week Julie se agterstallige salarisse aan sy personeel

Die ANC in Suid-Affrika se tesourier-generaal, Paul Mashatile, sê ten spyte van die feit dat die party se salarisrekening onvolhoubaar is, sal Julie se salarisse hierdie week, en dié van Augustus teen die einde van die maand, betaal word. Mashatile voeg by bronne sal ook gevind word om die party se werknemers se Werkloosheidsversekeringsfonds en ander agterstallige bedrae te betaal. Hy gee die Politieke Partye Befondsingswet, wat bepalings bevat oor maatskappye en individue se skenkings aan partye, die skuld hiervoor. Hy sê die party se salarisuitgawes is tans 18-miljoen-rand per maand.