Amper N$15 miljard vir Afghanistan, nie Taliban nie

Die Europese Kommissie sê Afghaanse burgers behoort nie die prys vir die Taliban se optrede te betaal nie. Die kommissie het ‘n ondersteuningspakket van sowat 14,95 miljard Namibiese dollar vir die mense van Afghanistan en omliggende lande aangekondig. Die pakket kombineer die Europese Unie se humanitêre hulp met ondersteuning wat op spesifieke basiese behoeftes gerig is. Die president van die kommissie, Ursula von der Leyen, sê dis belangrik dat almal doen wat hulle kan om grootskaalse humanitêre en maatskaplik-ekonomiese verval in Afghanistan te voorkom. Sy voeg by die EU se ontwikkelingshulp aan die land is steeds geblokkeer.