Amnestie-tydperk vir verkeers-lasbriewe verleng

Amnestie wat vanaf 1 November 2022 tot 31 Januarie 2023 aan Namibiërs met hangende verkeers-lasbriewe vir inhegtenisneming verleen is om skulderkenningsboetes te betaal, word verleng vir ‘n verdere tydperk van twee maande vanaf 1 Februarie tot 31 Maart. Gedurende die tydperk van amnestie moet ‘n beskuldigde met ‘n hangende lasbrief vir inhegtenisneming in die hof verskyn vir ‘n ondersoek oor die hangende lasbrief, luidens ‘n verklaring van die kantoor van die regsbank. Beskuldigdes wat van voorneme is om ‘n skulderkenningsboete te betaal, sal dit van Maandag tot Vrydag gedurende normale werksure kan doen. Na betaling van die skulderkenningsboete moet die dagvaarding van kennisgewing om in die hof te verskyn, saam met die kwitansie onder die aandag van die landdros gebring word. Kommissaris Petrus Swartz, hoof van verkeers-wetstoepassing van die Namibiese polisie, het met Kosmos 94.1 Nuus gepraat.