Amnestie tot 31 Januarie op uitstaande boetes

Die Namibiese polisie het ‘n amnestie-periode vir verkeersoortredings aangekondig. Die amnestie het reeds op 1 November begin en duur tot 31 Januarie volgende jaar. Die amnestie geld net vir uitstaande boetes en bestuurders en voertuig-eienaars met verkeersboetes wat nie betaal is nie, sal nie in die tyd vir minagting van die hof in hegtenis geneem word nie. Die woordvoerder van die Khomas-polisie, adjudant-offisier Silas Shipandeni, sê die inisiatief is deur die regstelsel aangedryf en wil bestuurders motiveer om uitstaande boetes te betaal. Daar is kritiek daarteen uitgespreek met sommige taxi-bestuurders wat sê dit sal net diegene met min uitstaande boetes help. Van hulle meen ‘n afbetalingstelsel op boetes sal beter werk en sal dus so versorg dat boetes wel betaal word.