Alweendo verdedig Namcor se kleinhandelrol

Die Namibiese minister van myne en energie, Tom Alweendo het Namcor se betrokkenheid by brandstofkleinhandel verdedig. Dit kom op die nuus dat die staatsbeheerde maatskappy binnelandse bergingsfasiliteite ook gaan bou. Die brandstof- en franchisevereniging, FAFA, sê dit gee aan Namcor ’n onregverdige voordeel bo private maatskappye in die sektor. Namcor bedryf reeds verskeie vulstasies en beplan 33 in totaal. Alweendo sê dat Namcor as ‘n plaaslike handelsmerk ook ‘n rol speel om Namibiese plaaslike eienaarskap in die sektor te verbeter, terwyl dit steeds die sekuriteit van petroleumprodukvoorsiening in die land verbeter. Onlangse studies het bevind dat staatsondernemings soos Namcor en NWR se beheer oor verskeie sektore, groei in die privaatsektor demp. Intussen is daar nog geen uitsluitsel oor of vulstasies hul deure gaan sluit of nie. Daar was Woensdagmiddag weer ‘n vergadering gehou maar FAFA se voorsitter Hennie Krüger, was nie bereikbaar nie.