Alweendo bevestig ondersoek na korrupsie-bewerings

Die Namibiese minister van myne en energie, Tom Alweendo, het bevestig dat ‘n ondersoek van stapel gestuur is na bewerings dat ministerie-amptenare omkoopgeld van 50 miljoen Namibiese dollar aanvaar het van ‘n Chinese maatskappy. Die plasing is wyd op sosiale media gedeel en noem Alweendo ook as een van die begunstigdes van die fondse. Volgens Alweendo is dit kwaadwillige laster teen sy persoon. Hy sê die bewerings ondersoek word en die wat skuldig bevind word sal die gevolge in die gesig staar. Alweendo se tegniese adviseur, Ralph Muyamba, en mynkommissaris Erasmus Shivolo is ook genoem. Daar word beweer die geld is van Xinfeng Investment, wat litium naby Omaruru ontgin, ontvang om te keer dat die eksplorasielisensie vir Karlowa Mining Enterprises, wat aan Timoteus Mashuna behoort, hernu word.