Alle universiteite in Afghanistan gesluit

Die nuwe kanselier van die Universiteit van Kaboel in Afghanistan het sy hande vol gehad om ’n “misverstand” op te klaar oor of vroue die universiteit verbied word. Die storm het losgebars om die kop van Mohammad Asjraf Ghairat, wat deur die Taliban aangestel is, nadat verskeie nuusagentskappe op grond van een van sy twiets berig het dat vroue (studente en personeel) die universiteit verbied is totdat ’n “Islamitiese omgewing” daar geskep is. Ghairat het hom weer tot Twitter gewend en gesê sy aanvanklike twiet is buite konteks aangehaal. Hy het gesê eerstens is alle universiteite toe en nie net Kaboel se universiteit nie, en tweedens is alle studente al die universiteite verbied, en nie net vroue nie.