Aktrise Anne Heche in kritieke toestand ná ongeluk

Die Hollywood-aktrise, Anne Heche is in ‘n kritieke toestand in die hospitaal nadat haar motor in vlamme verswelg is ná ‘n ongeluk. Die ongeluk het in die Mar Vista-woonbuurt in Los Angeles naby Heche se huis gebeur. Heche se blou Mini Cooper het ‘n motorhuisdeur van ‘n huis getref en in vlamme uitgebars. Meer as 50 brandweermanne het twee ure geneem om die brand te blus. Sy het erge brandwonde opgedoen. Beeldmateriaal wys sy het minute voor dié ongeluk in ‘n ander huis vasgejaag en weggejaag. Die 53-jarige Heche is die voormalige lewensmaat van Ellen DeGeneres en bekend in rolprente Donnie Brasco en Psycho.