Airbnb sal gratis behuising aan 20 000 vlugtelinge uit Afghanistan verskaf

Airbnb se uitvoerende hoof het verskeie twiets uitgestuur waarin hy sê die maatskappy sal onmiddellik gratis behuising verskaf aan 20 000 vlugtelinge uit Afghanistan. Brian Chesky sê die ontworteling en hervestiging van die vlugtelinge in Amerika en elders is een van die grootste humanitêre krisisse ooit en die maatskappy voel hy het ‘n verantwoordelikheid om na vore te tree. Hy sê nie hoe lank die vlugtelinge gehuisves sal word of hoe lank die maatskappy hulle verblyf sal befonds nie. Chesky sê hy hoop dit besiel ander sakeleiers om dieselfde te doen, want daar is geen tyd om te mors nie.