Agt sterf in helikopterongeluk in Rusland

Agt mense is waarskynlik dood toe ‘n toeriste-helikopter in die ooste van Rusland in ‘n meer neergestort het. Die Russiese media berig dat 16 mense aan boord die Mi-8 was toe dit in die Kurile-meer in die Kamchatka-skiereiland geval het. Daar is agt oorlewendes. Volgens amptenare lê die helikopter nou op ‘n diepte van sowat 140 meter waar dit te diep is vir duikers om te werk. Altesaam 28 mense het verlede maand in ‘n vliegramp in dieselfde gebied gesterf.