Agribank bied nou biomassa-fasiliteit aan

Agribank het ‘n nuwe leningsfasiliteit vir biomassa van stapel gestuur. Volgens die adjunk voorsitter van die bank Dagmar Honsbein sal beide nuwe en bestaande inisiatiewe finansiering kan bekom wanneer die fasiliteit op 1 November in werking tree. Indringerbos is ‘n baie groot uitdaging vir Namibië en Honsbein sê 26 miljoen hektaar in nege streke is reeds verlore aan veral swarthaak wat beide weiding en waterbronne negatief beïnvloed. Die fasiliteit sal nie net vir houtskool produksie aangewend word nie maar ook voerproduksie, meubels en meer. Op die oomblik het Namibië 230 houtskool produsente met 24 prosessering aanlegte. Die bedryf ondersteun meer as 7 500 werksgeleenthede en daar word voorspel dat dit met 8 persent jaarliks sal groei oor die volgende vyf jaar met ‘n opbrengs van 700 miljoen Namibiese dollar.