Afghaanse baba herenig met sy mense

’n Afghaanse baba is met sy gesin herenig nadat hy tydens die chaotiese oorname van die Taliban in Augustus van hulle geskei is. Die twee maande oue Sohail Ahmadi se ouers het hom by die lughawe in Kaboel aan Amerikaanse soldate oorhandig toe die gesin uit die land gevlug het. Hulle kon hom egter nie vind voordat hulle op ‘n repatriasievlug na Amerika vertrek het nie. Media berig die baba is uiteindelik by die huis van ‘n taxibestuurder, Hamid Safi, opgespoor, wat hom op die lughawe gevind en huis toe geneem het. Hy het toe op sosiale media na die kind se gesin begin soek.