Afcon, stadions, plaaslike sokkerwedstryde van die tafel af?

Die bod deur Namibië en Botswana om gesamentlik as gasheer vir Afcon 2027 op te tree, is in ernstige gedrang. Die ontwikkelingsbegroting vir die sportministerie is in die middeltermyn begroting deur finansminsiter Ipumbu Shiimi met 65 persent gesny van 66 miljoen Namibiese dollar tot 23 miljoen dollar. Dus, is daar nie geld vir die opknapping van Onafhanklikheidstadion nie. Daar is 50 miljoen dollar vir die werk begroot. Shiimi het in sy Februarie-begroting 20,5 persent meer geld aan die ministerie gegee met ‘n totale begroting van 330,9 miljoen dollar en daardie tyd melding gemaak van die stadion. Hy het aan plaaslike media gesê dat die land nie meer in ‘n situasie kan wees waar die nasionale sokkerspan, die Brave Warriors nie meer tuiswedstryde plaaslik kan speel nie. Maar nou is die begroting gesny. En dus, is daar tans geen stadion in die land, ook nie die Sam Nujoma-stadion wat volgens Fifa-regulasies op standaard is vir ‘n internasionale wedstryd nie, waar ‘n wedstryd gespeel kan word nie. Dit kos ongeveer 1 miljoen Namibiese dollar per tuiswedstryd by die Orlando-stadion in Johannesburg.