Opposisieleier in Tanzanië vrygelaat
Een van Tanzanië se vernaamste opposisieleiers en voormalige presidensiële kandidaat Tundu Lissu is op borgtog vrygelaat ure nadat hy deur die polisie gearresteer is omdat hy na bewering ‘n onwettige byeenkoms gehou het. Lissu, ondervoorsitter van Tanzanië se grootste opposisieparty Chadema, is Sondag saam met ander partyleiers in die noorde van Tanzanië se Arusha-streek uit ‘n hotel gearresteer en later die aand vrygelaat. Lissu het sedert sy terugkeer uit ballingskap in Januarie regoor die land politieke saamtrekke gehou en president Samia Suluhu Hassan se administrasie gekritiseer vir sy menseregterekord en sy hantering van ‘n omstrede hawe-bestuursooreenkoms.