Esau sal vlug as hy borg kry

Die voormalige minister van visserye Bernhardt Esau en sy mede-Fishrot-beskuldigde Nigel van Wyk sal op 9 Oktober terugkeer hof toe na die twee se borgaansoek uitgestel is. Dit sal na verwagting dan voorkom vir ‘n statusverhoor oor die beskikbaarheid van die hofrekord. Die hoof ondersoekbeampte van die Teenkorrupsie-kommissie Andreas Kanyangela het ‘n uitmergelende tyd in die getuiebank gehad tydens sy kruisondervraging. Hy hou voet by stuk dat Esau ‘n vlugrisiko is en voeg by dat 74 miljoen Namibiese dollar van die totale omkoopgeld van Samherji steeds vermis is en daar word vermoed dit is in ‘n bankrekening in Dubai. Dit meen hy, sal Esau nog meer aanmoedig om te vlug. Die hoofverhoor is neergelê vir 2 Oktober vanjaar.