Zimbabwe: Verkiesingskommisie sê Pres. Mnangagwa wen weer
Zimbabwe se verkiesingskommissie het laat Saterdag bevestig President Emmerson Mnangagwa van Zanu-PF het die presidensiële verkiesing met 52,6 persent van die stemme gewen met 2,23 miljoen kiesers wat vir hom gestem het. Maar die opposisie en ontleders het dadelik die uitslag bevraagteken en verwerp. Volgens die verkiesingskommissie het Mnangagwa se vernaamste uitdager, Nelson Chamisa, wat die opposisieparty Citizens’ Coalition for Change lei, 44 persent van die presidensiële stemme gekry wat 1,96 miljoen stemme is. Die gespanne situasie in Zimbabwe het vererger nadat die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap ‘n verklaring uitgereik het waarin hy daarop gewys dat die verkiesing nie aan streeks- of internasionale standaarde voldoen het nie.