Verkiesingsmateriaal daag laat op by sommige stemlokale in Zim

Die hoof van die verkiesingwaarnemers van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, Nevers Mumba, het sy kommer uitgespreek oor verkiesingsmateriaal wat laat opgedaag het vir vandag se verkiesing in Zimbabwe. Mumba was voorheen adjunk-president van Zambië. Sommige stemlokale, wat om sewe-uur vanoggend moes open, kon eers ure later kiesers hulle kruisies laat trek, omdat daar nie stembriewe en ink was nie. Mumba sê hy sal die Verkiesingskommissie vra vir ‘n verduideliking. Zimbabwe se kanse om sy skuldkrisis te bowe te kom hang af van ‘n vry en regverdige verkiesing. Die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds het dit as voorwaarde gestel voordat samesprekings oor finansiële bystand kan begin.