Otji-polisie vind liggame van ma en dogter (5)
Die Namibiese polisie van Otjiwarongo het die liggame van ‘n 21-jarige vrou en haar vyfjarige dogter in hul sinkhuis in die Ombili-nedersetting gevind nadat onraad vermoed is. Die ma het vermoedelik haar dogter verwurg en haarself daarna met ‘n elektriese koord aan die sinkdak gehang. Haar vriendin het onraad vermoed toe die ma nie haar oproepe beantwoord het nie en na haar huis gegaan. Die vriendin het die polisie gebel toe sy ‘n stankreuk by die huis waargeneem het. Polisielede het die huis se deur afgebreek en die oorledenes gevind. Die meisie het beserings aan haar gesig en bloeding van die neus gehad. Geen selmoordbrief is gevind nie, maar geen gemene spel word vermoed nie. Die liggame is na die Otjiwarongo-staatshospitaal geneem vir nadoodse ondersoeke.