Chaos by HKIA met Paragon wat vandag vraghantering oorneem
Die Namibiese Lughawensmaatskappy sê in ‘n mediaverklaring wat vanoggend eers deur lugrederye ontvang is, dat Menzies Aviation vandag die Hosea Kutako Internasionale Lughawe moet ontruim nadat sy vraghanteringsdienste Vrydag opgeskort is. Dit volg ná verskeie regsgedringe. Die lughawensmaatskappy sê Paragon begin vandag met vraghantering op die lughawe en vra vir samewerking van rolspelers. Volgens berigte vanaf die lughawe heers daar chaos met die oorgangsproses. Airlink het wel Paragon se vraghantering benut met ‘n vlug wat ingekom het. Lufthansa en Qatar Airways is tans besig met krisisvergaderings om hul vlugte te herlei.