Vandalisme, kabeldiefstal maak sake onvolhoubaar

ErongoRED se hoof uitvoerende beampte, Tino !Hanabeb, sê koperkabeldiefstal en vandalisme van krag-infrastruktuur is ‘n uitdaging en dit ontwrig die elektrisiteitsvoorsiening. !Hanabeb het bevestig dat die diefstal en vandalisme van koperkabels die elektrisiteits-verspreider in 2022 en 2023 onderskeidelik meer as 1,7 miljoen Namibiese dollar gekos het. Verder het hy ‘n sekuriteitsmaatskappy teen ‘n koste van byna 73 000 dollar per maand aangestel om elektriese toerusting en infrastruktuur te bewaak. !Hanabeb sê behalwe dat dit kragvoorsiening aan inwoners ontwrig, het dit ook ‘n impak op kritieke dienste soos hospitale, klinieke, munisipale waterpompe, banke en skole. En finansieel is dit onvolhoubaar.