Liggame van 23 Rohingya-vlugtelinge gevind ná boot sink

Die liggame van 23 Rohingya-vlugtelinge is gevind nadat ‘n boot waarmee hulle uit die Rakhine-staat in Mianmar gevlug het, gesink het. Nog dertig mense word vermis, terwyl agt die voorval oorleef het. Die oorlewendes sê hulle het probeer om Maleisië te bereik toe die boot met meer as 50 passasiers in die moeilikheid beland het. Duisende mense van die Rohingya-minderheidsgroep poog jaarliks om die Andaman-see na Maleisië of Indonesië oor te steek weens vervolging in Mianmar en die toestande in oorvol vlugtelingekampe in Bangladesj.