Russiese verkragter Krylov, pleeg selfmoord in gevangenis

Die Rus Alexander Krylov wat in Februarie tot 35 jaar tronkstraf gevonnis is op verskeie aanklagte van verkragting en mensehandel van vyf tienermeisies, het selfmoord in die Windhoekse korrektiewe fasiliteit gepleeg. Die 62-jarige Krylov se liggaam is in die stort deur ‘n medegevangene gevind waar hy homself met ‘n stuk kombers opgehang het. Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag is geen selfmoordbrief agtergelaat nie en geen gemene spel word vermoed nie. Hoërhof-regter Claudia Claassen het einde Junie verlof tot appèl geweier aan Krylov en sy Namibiese medepligtige, Anna Engelbrecht van Walvisbaai. Die twee is in Maart in die Windhoekse hoërhof tronkstraf van onderskeidelik 35 jaar en 25 jaar gevonnis op tien elk aanklagte van verkragting en mensehandel. Krylov het erken dat hy gedurende 2017 met minstens vyf minderjarige meisies seks gehad het, maar het ontken dat hy enige van hulle verkrag het. Die twee het tereggestaan op 42 aanklagte van verkragting en mensehandel, benewens ‘n aanklag dat hulle minderjariges van sigarette voorsien het.