Vleisuitvoere na Midde-Ooste word ondersoek
Die landbouministerie het vroeër in Julie ‘n handelsending na die Verenigde Arabiese Emirate en Katar onderneem om nuwe markte vir Namibië se vleis en vleisprodukte te verken, veral uit die noordelike kommunale gebied. Die Emierate het na vore gekom as ‘n aantreklike mark vir Namibiese vleis. Kuwait verbruik die meeste vleis, gevolg deur Saoedi-Arabië, terwyl die Emirate been-in skaap- en bokvleis bó beesvleis verkies. Interessant genoeg het die Emirate voorheen 80 persent van sy vleis van Sudan ingevoer, maar as gevolg van die politieke onstabiliteit daar het Namibië nou ‘n geleentheid om daardie gaping te vul. Een uitdaging wat Namibië in die gesig staar, is dat dit nie ‘n halaal-sertifiseringsliggaam het wat deur die Midde-Ooste erken word nie. Dit beteken dat Namibië alternatiewe opsies moet ondersoek, soos die gebruik van Suid-Afrikaanse halaal-sertifiseringsliggame wat in daardie streek aanvaar word.