Brasilië se inheemse gemeenskappe hou asem op

Die leiers van 54 inheemse gemeenskappe in Brasilië het ‘n beroep op die regering gedoen om ‘n konkrete standpunt in te neem oor die afbakening van hul voorvaderlike lande voor ‘n belangrike uitspraak van die Hooggeregshof oor die kwessie. Die Hooggeregshof se verhoor kan die beskermde status van sommige inheemse gebiede verwyder, wat hulle oopstel vir landbou en mynbou. Die wet erken tans net voorvaderlike gebiede wat deur inheemse gemeenskappe beset is toe Brasilië se grondwet in 1988 afgekondig is. Maar inheemse leiers sê sekere gebiede was op daardie stadium nie meer beset nie omdat gemeenskappe daaruit verdryf is, veral tydens die militêre regering van die 1960’s tot die 1980’s. Die verhoor, wat in Junie uitgestel is, sal die 1988-afsnypunt óf bekragtig óf ongeldig maak.