Namcor se Mulunga het niks verkeerd gedoen nie
Die Teenkorrupsie-kommissie van Namibië het die geskorste besturende direkteur van Namcor, Immanuel Mulunga, van enige oortreding vrygespreek. Paulus Noa, direkteur-generaal van die kommissie, sê in verklaring dat daar geen bewyse is dat Mulunga kriminele voorneme gehad het toe hy geld na ‘n Angolese oliemaatskappy Sungara Energies oorgeplaas het nie. Noa sê hoewel Mulunga geen magtiging van die raad gehad het toe hy meer as 100 miljoen Namibiese dollar aan die oliemaatskappy oorbetaal het nie, het hy dit in die beste belang van Namcor en Namibië gedoen. Mulunga is op 4 April geskors na ‘n vergadering met die minister van finansies en openbare ondernemings, Ipumbu Shiimi. Die ondersoek van die kommissie sluit onderhoude met al die raadslede in.