Watersport: Twee kommentators geskors ná onvanpaste opmerkings

Watersport: Die Italiaanse uitsaaier RAI het die skorsing aangekondig van twee kommentators wat seksistiese en rassistiese opmerkings gemaak het tydens die Wêreld Watersport-kampioenskap in Japan. Lorenzo Leonarduzzi en Massimiliano Mazzucchi het na die deelnemers se fisiese voorkoms verwys terwyl hulle kommentaar gelewer het oor die vroue se gesinchroniseerde duikbyeenkoms in Fukuoka. Leonarduzzi het agterna gesê hulle het geen idee gehad hulle is regstreeks op die lug nie. Hy is voorheen gekritiseer oor ‘n seksistiese grappie toe hy kommentaar oor motorsport gelewer het. Die organiseerders, World Aquatics verwelkom die uitsaaier se besluit om die joernaliste huis toe te stuur.