Rusland teiken Oekraïnse hawens

Die Oekraïnse minister van landbou, Mykola Sosky sê ‘n beduidende hoeveelheid infrastruktuur wat vir graanuitvoere gebruik word, is oornag beskadig tydens ‘n Russiese aanval op ‘n hawe in die Odesa-streek. Hy sê sowat 60 000 ton se graan, is ook tydens die aanval vernietig. Volgens Oekraïne se lugmag is 63 missiele en hommeltuie oornag afgevuur, waarvan 37 afgeskiet is. Die lugmag sê die fokus van die aanvalle was infrastruktuur en militêre geriewe in die Odesa-streek. Drie hawens in dié streek is die enigstes wat gebruik word om graan uit te voer ingevolge die Swartsee-graanooreenkoms. Rusland het Maandag aan die ooreenkoms onttrek wat verseker dat graan uit Oekraïne veilig deur die Swartsee vervoer kan word.