Drie gevalle van veediefstal, stropery aangemeld

Die Namibiese polisie sê drie Namibiese verdagtes sal vandag in die hof verskyn nadat hulle oor die naweek aangekeer is in ‘n bakkie gelaai met twee vol- en een halwe beeskarkas. Die drie kon nie eienaarskap van die vleis bewys nie en daar was geen oorplaatjies op die diere nie met die ore wat afgesny is. Boere wat moontlik drie bees verloor het in die gebied van Okahandja en Windhoek moet die polisie kontak sodat eienaarskap van die diere bevestig kan word. Die waarde van die vleis word op 42 000 Namibiese dollar beraam. Op Otavi is ‘n bees geslag maar, die stropers het gevlug. Die karkas is gevind en die ondersoek duur voort. En nog stropery het op Rehoboth plaasgevind. Twee Namibiese mans sal vandag in die hof verskyn nadat hulle twee gemsbokke onwettig geskiet het. Die karkasse, en ‘n 30-06 Remington-geweer is gekonfiskeer. Polisie-ondersoeke duur voort.