Gesteelde bakkie van Aranos-egpaar gevind, rowers nog soek
Die gesteelde voertuig van Aranos-egpaar, ’n wit Toyota 2.7 enkelkajuit-bakkie is Sondagmiddag verlate op die Mariental-Kalkrand-pad gevind. Die Namibiese polisie en boere in die Hardap-streek is nog steeds op soek na die vier gewapende rowers wat Sondagoggend die egpaar in hul huis op die dorp aangeval, aangerand en beroof het. Volgens die koördineerder van misdaad-ondersoeke in die Hardap-streek, adjunk-kommissaris Eric Clay, is die egpaar in hul sestigs, omstreeks twee-uur die oggend deur vier mans gewapen met ‘n pistool, messe en pangas aangeval en beroof. Hulle is met kleeflint vasgebind en die man is met ‘n panga oor sy arm gekap. Die verdagtes het balaklavas gedra en het verskeie vuurwapens, selfone, vleis, wyn en die voertuig gesteel. Geen van die gesteelde items is in die bakkie gevind nie.