Hardap-polisie soek steeds na vier wat Aranos-egpaar aanrand, beroof

Die Namibiese polisie en boere in die Hardap-streek is nog steeds op soek na die vier gewapende rowers wat vanoggend ‘n egpaar van Aranos in hul huis op die dorp aangeval, aangerand en beroof het. Volgens die koördineerder van misdaad-ondersoeke in die streek, adjunk-kommissaris Eric Clay, is die egpaar in hul sestigs, omstreeks twee-uur deur vier mans gewapen met ‘n pistool, messe en pangas aangeval. Hulle is vasgebind en die man is met ‘n panga oor sy arm gekap. Clay het aan Kosmos 941. Nuus gesê die plaaslike dokter het reeds die egpaar behandel en hulle is buite gevaar. Die verdagtes het verskeie vuurwapens en die boer se wit Toyota 2.7 enkelkajuit-bakkie met tralies met die registrasienommer N 569 AR gesteel en daarmee gevlug. Adjunk-kommisaris Clay doen ‘n beroep op die publiek om hom met inligting te skakel by 081 129 8473.