Witpoeier by Withuis word ondersoek

Die Amerikaanse geheime diens stel ondersoek in nadat witpoeier in die Withuis in Washington DC gevind is. Die poeier is deur lede van die geheime diens gevind op hul roetine-rondtes deur die gebou. ‘n Voorlopige ondersoek dui daarop dat dit kokaïen is. Anthony Guglielmi, woordvoerder van die geheime diens, sê die middel word verder getoets om vas te stel wat dit is. Daar is ook ondersoek na waarom en hoe die poeier in die Withuis beland het. President Joe Biden was nie in die Withuis ten tyde van die voorval nie en geen veiligheids-waarskuwing is uitgereik nie.