‘Meatco is ‘n bodemlose put’

Die landboukenner Wallie Roux sê die bestuur van Meatco het die instansie in ‘n bodemlose put verander. Hy het die aanmerkings gemaak na dit aan die lig gekom het dat landbouminister Calle Schlettwein meen 1,7 miljard Namibiese dollar moet in Meatco belê word en dat ‘n openbare-privaat vennootskap aangegaan moet word. Meatco bly in die nuus vir al die verkeerde redes en daar is ook gereeld berigte dat produsente laat betaal word omdat daar nie voldoende fondse is nie. Die bekende Rainer Ritter se ontleding toon ook dat Meatco nie volhoubaar is nie en dat sonder die 86 miljoen Namibiese dollar reddingsboei van die regering, sou die maatskappy onlangs ‘n verlies van 204 miljoen dollar aangeteken het. Die maatskappy skuld die Namibiese Ontwikkelingsbank 670,7 miljoen dollar en Ritter sê die bank dra die grootste risiko. Hy sê Meatco verloor markaandeel as gevolg van wanbestuur. Intussen blyk dit dat sake redelik goed vorder met die Beesvleis Waardetoevoegingsketting en Savanna Beef Processors wat deur Mecki Schneider op die been gebring is met ‘n verdere 26,5 miljoen dollar se aandele wat onlangs aangebied is.