Windplaas sal in alle waarskynlikheid deur Chinese gebou word
Die land se eerste windplaas 30 kilometer noord van Rosh Pinah sal in alle waarskynlikheid deur ‘n Chinese firma ontwerp en gebou word. Volgens die Tender Bulletin het vyf uit agt aansoekers die voor-kwalifikasie ronde deurgemaak en uit die vyf is drie Chinese firmas. Die teenwoordigheid van Chinese boufirmas in die land, sowel as die herhaalde toekenning van kontrakte en tenders aan die firmas was onlangs in die nuus. Die Namibiese Konstruksie-federasie eis dat Namibiese kontrakteurs voorkeur kry. Die windplaas-projek sal teen ‘n koste van 1,1 miljard Namibiese dollar gebou word. Die geld is deur die Duitse KfW Ontwikkelingsbank aan die land geleen. Dit vorm deel van die groen-waterstofprojek.