Kommer oor konstruksie-mafia in KwaZulu-Natal

‘n Kriminoloog van die Universiteit van KwaZulu-Natal, professor Nirmala Gopal, sê die sogenaamde konstruksie-mafia belemmer die ekonomie. Sy sê groepe mense wat mafia-tipe taktiek gebruik om openbare en privaat konstruksie-terreine te kaap en kontrakte of beskermingsgeld te eis, het ‘n negatiewe uitwerking op ekonomiese groei. Volgens die minister van openbare werke en infrastruktuur, Sihle Zikalala, word 682 sake deur die afdeling vir georganiseerde misdaad ondersoek. Gopal sê ‘n holistiese benadering is nodig deur ‘n multi-sektorale span wat verstaan hoe hierdie mafia-groepe te werk gaan en hoe hul organisatoriese strukture lyk.