Calle: Suiwel- en pluimveebedryf moet beskerm word

Die landbouminister Calle Schlettwein het vandag die Wysigings-wetsontwerp op Lewendehawe en Veeprodukte in die parlement bekendstel. Die Vleisbedryfswet van 1981 maak voorsiening vir die beheer van sekere vee en veeprodukte, naamlik beeste, skape, bokke en varke en vleis wat daarvan afkomstig is. Volgens die Vleisraad van Namibië is ‘n hersiening van hierdie wet nodig om ook ander kommoditeite soos suiwel, pluimvee en hul produkte in te sluit, aangesien hierdie bedrywe op die rand van ineenstorting is as gevolg van invoere na Namibië. Schlettwein sê beskikbare data dui daarop dat Namibiese verbruik dié bedrywe se groei kan ondersteun.