Predikante van Kerk van Engeland soek verhogings
Predikante van die Kerk van Engeland eis vir die eerste keer in die Kerk se 500-jarige bestaan ‘n verhoging van hulle toelaes. Die vakbond Unite wat meer as 2 000 van die kerk se amptenare verteenwoordig eis dat die toelaes met 9,5 persent verhoog word. Die vakbond sê dit is welbekend dat die Kerk miljarde Britse pond in die bank het. Die vakbond sê sy lede ly onder die hoë lewenskoste. ‘n Woordvoerder van die Kerk van Engeland het intussen gesê hulle is bewus van die eise wat die stygende lewenskoste ook aan sy amptenare stel en sal dit in ag neem by aanbevelings oor die verhogings in toelaes.