Geen renosterstropers nog vasgetrek

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die renosterstropery wat op ‘n privaat lodge naby die Etosha Nasionale Park plaasgevind het nie. Die karkas van ‘n witrenosterkoei is Donderdag by die lodge ontdek en haar horings is verwyder. Die koei se kalfie is ook dood langs haar gevind, maar het vermoedelik weens honger gevrek. Die woordvoerder van die omgewingsministerie Romeo Muyunda het aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig dat geen verdagtes gearresteer is in verband met die stropery van ‘n swartrenosterbul Sondag nie. Dié voorval het op ‘n ander lodge naby Etosha plaasgevind. Muyunda sê die bul se horings is ook verwyder, maar is gevind. Die ondersoeke duur voort.