Navorser wat ontdek walvisse kan sing, sterf
Die wetenskaplike wat ‘n wêreldwye bewaringsveldtog laat ontstaan het met sy ontdekking dat walvisse kan sing, is op 88-jarige ouderdom oorlede. Roger Payne het die ontdekking in 1967 gedoen, tydens ‘n navorsingstog na Bermuda. Payne het die klaende klanke op opnames van onderwatergeluide geïdentifiseer as die liedere wat walvisse vir mekaar sing. Hy het daarna die trefferalbum “Songs of the Humpback Whale” in 1970 vervaardig. Dit het gelei tot ‘n wêreldwye beweging téén kommersiële walvisjag, om walvisse van uitwissing te red. Die album is steeds die wêreld se topverkoper vir omgewingsalbums.