Blinken bly dat Ethiopiese regering onderneem om voedselhulp in Tigray te verseker

Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Antony Blinken, het die Ethiopiese regering se onderneming verwelkom om bewerings te ondersoek dat voedselhulp nie uitkom by die mense vir wie dit bedoel is nie. Dit volg nadat die Amerikaanse agentskap vir internasionale ontwikkeling, USAid, voedselverspreiding in die Tigray-streek tydelik gestaak het. Miljoene mense in dié streek verkeer in ernstige nood. USAid sê die kos kom nie by mense uit nie. Die agentskap sê hy het gevolglik die moeilike, maar noodsaaklike besluit geneem om voedselbystand te staak, totdat hervormings in plek is.