N$18m vir klaskamers in Kavango Oos
Die Kavango Oos Onderwysdirektoraat het tenders ter waarde van meer as 18 miljoen Namibiese dollar vir die bou van klaskamers toegeken. Daar is ‘n erge tekort aan infrastruktuur wat tot oorbevolking gelei het met sommige leerders wat in tente skoolgaan. Plaaslike media berig ’n drieklaskamerblok sal by die Rundu Project-skool gebou word, waar leerders tans in tente onderrig word, terwyl ’n vierklaskamerblok by Siguruguru Primêreskool opgerig sal word. Die waarnemende onderwysdirekteur vir Kavango Oos, Christine Shilima, sê die huidige konstruksie sal nie heeltemal oorvol klasse aanspreek nie. Sy sê die groeiende aantal leerders tydens registrasie maak beplanning moeilik. Afgesien van die tenders, het die direktoraat ook bykomende fondse ontvang vir die bou van 41 bykomende klaskamers.