T rex-skelet verkoop vir US$6,13m

Die skelet van ‘n Tyrannosaurus rex, wat 67 miljoen jaar gelede op die aarde rondbeweeg het, is by Koller Auctions in Zürich vir 6,13 miljoen Amerikaanse dollar, minder as wat verwag is, verkoop. TRX-293 TRINITY, wat 3,9 meter hoog en 11,6 meter lank is, is ‘n saamgestelde skelet van 293 bene van drie verskillende T rex’s wat tussen 2008 en 2023 in die Amerikaanse state Montana en Wyoming gevind is. Dit is die eerste keer in Europa en die derde keer wêreldwyd dat ’n hele T rex-skelet van uitsonderlike gehalte op ’n veiling aangebied is. Meer as die helfte van die skelet se bene is oorspronklik. Die res is vervangings gemaak van gips- en epoksiehars-afgietsels.