NWR sal die jaar gelykop breek
Namibia Wildlife Resorts voorspel dat hy in die huidige boekjaar nie verliese sal ly nie en gelyk sal breek. Die NWR se woordvoerder, Nelson Ashipala, het aan plaaslike media bevestig dat die vorige boekjaar baie goeie syfers vertoon het. Die syfers sal binnekort bekend gemaak word. Vir die 2021/22-boekjaar het NWR berig dat hy in staat was om sy verliese van 174 miljoen Namibiese dollar wat in 2020 aangeteken is tot 97 miljoen dollar te verminder, ’n daling van 44 persent. Die vrywillige afleggingspakkette is steeds geldig by die instansie en so ook die loonverlaging van 25 persent aan die bestuur. Opknappings wat vroeër aangekondig is by sy oorde is steeds aan die gang en ongeveer 16 miljoen dollar is daarvoor begroot. Onkoshi is voltooi, terwyl werk aan die gang is by Waterberg.